KROONSTAD-OOS LERAARS
Ds. Johan Pietersen 1964 - 1988 |
Dr. Talbot Sadler 1989 - 1996 |
Ds. Chris de Wet 1996 - 2009 |
Ds. Wikus Venter 2007 - 2015 |
Dr. Darius Botha 2010 - 2014 |
Ds. Marius Ellis 2016 - huidige leraar |
ARBEIDERS IN DIE GEMEENTE-WINGERD
DS. J C PIETERSEN 5 Desember 1964 30 Oktober 1988
|
Ds. J C Pietersen het aan Grey Kollege gematrikuleer en daarna, eers aan
die UOVS en later aan Stellenbosch Universiteit studeer.
Hy was met Dala Blomerus, 'n pastoriedogter getroud. Hulle het as
pastoriepaar in diens van die Here gestaan in Stanger, Brandwag, Robertson
en Newtonpark. In 1964 word hy as die eerste leraar van die nuut afgestigte
gemeente, Kroonstad-Oos beroep. Hulle arriveer dus vanaf Newtonpark in
Kroonstad met hulle kinders, Johan, Kobus, Herman en Marietjie.
Dala sou later hier gebore word. |
![]() |
Op 6 Desember 1964 lewer hy sy intreepreek met sy teks uit Genesis 37 : " 'Wie soek jy?' en hy antwoord: “Ek soek my broers: " Onder sy dinamiese leiding en saam met sy ewe bekwame vrou, Dala word 'n stewige fondament gelê op grond van God en Sy Woord en word daar begin met die opbou en uitbou van ons gemeente. Op passievolle wyse het ds. Pietersen inderdaad ook die gemeenskap van Kroonstad oor 'n wye spektrum gedien. Hy was voorsitter van diebeheerrade van Sentrale Volkskool en Kroonstad Hoërskool. Onder sy leiding het die Tehuise vir Bejaardes, Silwerkroon en Edelkroon tot stand gekom. Daarbenewens het hy verskeie oorsese toere gereël, tot in die fynste detail beplan. |
Groot smart is ervaar met
die heengaan van Dala
op 12 Junie 1982.
|
Vyf jaar later is hy met Lydia Venter getroud.
Sy het met toewyding in die voetspore van haar
voorganger gevolg.
Ds. Johan Pietersen het vir 24 jaar met oorgawe
en vurige entoesiasmein ons gemeente gewerk en
eventueel sy totale jare van bediening finaal hier in
Kroonstad-Oos gemeente afgesluit op 30 Oktober 1988. |
Hulle het later verhuis na Bloemfontein, waar
hy op 21 September 2007 oorlede is.
'n Gedenkdiens is hier in Kroonstad-Ooskerk
vir hom gehou. |
DR. T H N SADLER 5 Maart 1989 Januarie 1996
|
Ek is op Vryburg, daar duskant die Kalahari, gebore, het daar grootgeword, skool gegaan en gematrikuleer. Daarna het ek aandie Universiteit van Pretoria gestudeer. Ek het mettertyd twee grade in die regsgeleerdheid verwerf, en toe ook BD en DD in die teologie. Gedurende die 30 jaar wat ek in die bediening was het ek in vier gemeentes gedien, waarvan Kroonstad-Oos die laaste en in 'n sekere sin ook die hoogtepunt was. Ek het orals wonderlike kinders van die Here leer ken en wat 'n vreugde was dit om saam met hulle die Here te kan dien! |
Terwyl ek nog in Johannesburg predikant was, is ek met Sarie getroud, en het die Here ons met drie
kinders geseën, nl. Talbot, Sarita en CJ. Al drie het hier in Kroonstad kom grootword en hul skoolloopbane
hier voltooi. Mettertyd het ek ook ‘n skoondogter Estelle, by-gekry, en twee kleinseuns, Ethan en André.
Ons is nou nie eintlik 'n groot familie nie, maar beleef tog 'n rykdom van genade. Orals waar Sarie saam
met my in die bediening was, het sy haar uitgelewe in die Vrouediens, ook hier in Kroonstad-Oos,
totdat sy ons in 1994 as gevolg van leukemie ontval het. |
![]() |
![]() |
Einde 1995 het ek vir Petz raakgeloop en was sy gewillig om die laaste deel van my pad met my saam te stap. Aan die begin van 1996 het ek uit die bediening getree en toe maar besluit om permanent in Kroonstad te vestig. Mense het my al gevra of ek nog nooit spyt gekry het dat ek 'n loopbaan in die regsgeleerdheid verruil het vir een in die evangeliebediening nie. Die antwoord is 'n besliste NEE. Die evangeliebediening was vir my bestem. Nie dat predikantwees altyd lekker is nie. Dit het sy frustrasie, maar dit bly 'n onvergelyklike voorreg. Dit is soos Paulus gesê het dat hy hom voorgeneem het om niks anders te wil verkondig nie as Jesus Christus as die Gekruisigde. Vir die wêreld is dit dwaasheid, maar vir ons wat gered word is dit die krag van God. |
DS. T C DE WET 7 Julie 1996 - 30 November 2009
|
Ds. Chris de Wet is in Bloemfontein gebore. Weens sy pa se werk - hy was 'n bankamptenaar - het hul dikwels verhuis en het hullein die Kaap, Bellville, Port Elizabeth en weer in Bellville gewoon. Hy begin laerskoolloopbaan by Excelsior Laerskool in Bellville en het tot in 1973 daar skoolgegaan. Sy pa word in dié jaar bevorder tot takbestuurder van Saambou Nasionale Bouvereniging (later Saambou Bank) in Roodepoort en Chris deurloop sy hele verdere skoolloopbaar daar waar hy in 1979 aan die Hoërskool Roodepoort matrikuleer. Chris het op 31 Januarie 1980 by Tukkies gaan inskryf vir die begin van sy studies, hoewel hy graag Stellenbosch toe wou gaanweens sy bekendheid met die Kaapse omgewing.... en die wens om vir die WP-rugby te speel! Nieteenstaande was die koshuislewe op Tuks in Huis Taaibos, die studentelewe en BA-admissie 'n onvergeetlike tyd, en vandag sou hy dit nie anders wou hê nie. Nadat hy sy BA-graad met Grieks en Hebreeus as hoofvakke behaal het, het hy een jaar voltyds honneurs in Grieks studeer en dit ongelooflik verrykend ervaar. Sy teologiese studies begin in 1984 en hy voltooi dit vier jaar later. Chris was in die laaste groep teologie-studente wat sewe-jaar opleidingskedule. Hy was ook een van die laastes wat nog twee jaar diensplig gedoen het en wel by die Lugmaggimnasium, Valhalla in Pretoria (1988 - 1989). |
Lucretia was ook 'n leerling aan Roodepoort Hoërskool en hoewel hulle van mekaar geweet het,
het Chris se oë eers oopgegaan vir hierdie meisie, toe hy gedurende sy eerste jaar op Tuks,
'n jeugkamp van die gemeente Horison-Noord naby Hekpoort in die Magaliesberge, bywoon.
Dit was die begin van hul paadjie saam - sy in standerd agt en hy in sy eerste jaar. Lucretia
voltooi later haar onderwysopleiding aan die Goudstadse Onderwyskollege en hulle is op
7 Desember 1987 getroud.
Hul lewe is verryk met twee wonderlike seuns as geskenke van die Here. Christiaan, die oudste,
is vroeër vanjaar getroud met Nadia Botha - hy is 'n siviele ingenieur in Kaapstad en Arno,
die jongste, het 'n liefde uit Tzaneen se omgewing, Luanné Lombard. Hy doen sy
ouditeurs- klerkskap by 'n firma in Kaapstad.
|
Ontvangs en bevestiging van ds. Chris
& Lucretia de Wet op 21 Julie 1996
|
![]() |
Afkskeid van ds. Chris & Lucretia de Wet op 29 November 2009 Chris aan die woord: "Ons sal Kroonstad-Oos onthou in die verwelkomingsteks wat wyle Dries Cuyler vir ons in die pastorie kom voorlees het op 16 Julie 1996: "EnGod is by magte om aan julle alles in oorvloed te skenk, sodat julle in alle opsigte altyd van alles genoeg kan hê en volop kan bydrae vir elke goeie werk" (2 Korintiërs 9:8) Kroonstad-Oos was 'n plek waar ons baie Iiefde ontvang en onvoorwaardelike aanvaarding beleef het..... Dit was en is nog steeds in vele opsigte nie vir ons 'n gemeente waar ons gewerk het nie, maar 'n familie om aan te kon behoort..... 'n ruimte waar jy jouself kon wees! " |
DS. W VENTER 21 Augustus 2007 21 Julie 2015
|
Wikus is 'n gebore en getöe Oosrander. Op vyfjarige ouderdom verhuis die Ventergesin van Boksburg na Brakpan.
Hy begin sy skoolloopbaan by Dalview Laerskool en matrikuleer aan Hoërskool Stoffberg. Sy pad na predikant-word het vreemde draaie geloop. In sy matriekjaar was dit altyd die plan om Ingenieurswese te studeer aandie Potchefstroomse Universiteit. Dit het ook so gebeur dat hy sy studies begin het en sy eerste jaar voltooi het. Gedurende daardie jaar ervaar hul gesin verskeie gebeure wat 'n ingrypende effek op hul lewe gehad het. Die vernaamste hiervan was die dood van sy pa. Aan die einde van die jaar het hy sy roeping ontvang uit Jesaja 49:5-6 en begin hy die volgende jaar met sy teologiese studies aan die Potchefstroomse Universiteit. Hy voltooi later sy studies aan die Stellenbosch Universiteit in 2004. Van 'n beroep van ingenieur na teoloog was 'n geweldige sprong maar hy was nog nie eendag spyt nie ... |
Hy ontmoet sy vrou, Zanel, tydens 'n studentefunksie van die Stellenbosch Moedergemeente
waarby beide van hulle ingeskakel was.
Na sy studies aanvaar hy 'n beroep na Kroonstad en Zanel volg hom hierheen en kom sit ook haar
loopbaan in Kroonstad voort. Hulle trou op 10 Maart 2007 en tans die pastorie egpaar van die gemeente.
Ontvangs van ds. Wikus & Zanel Venter op 12 Augustus 2007 |
![]() |
Afskeid van ds. Wikus & Zanel Venter
op 21 Junie 2015 |
Wikus aan die woord oor hul ervaring van Kroonstad-Oos gemeente: "Wanneer ek hierdie vraag moet antwoord is die eerste ding wat in my gedagtes opspring is die mense van Kroonstad-Oos. Hier is soveel wonderlike kinders van die Here wat met passie vir Hom leef. Wat 'n voorreg om saam met hulle op reis te gaan en God elke dag meer te ontdek. Dis vir my positief!" Ds. Wikus Venter het 'n beroep na die Ned. Geref. Gemeente Dias in Port Alfred aanvaar m.i.v. 1 Julie 2015 |
DS. D S BOTHA 31 Januarie 2010 27 Julie 2014
|
Darius is gebore op 26 Junie 1955 te Breyten in Mpumalanga (Op 'n Sondag, sê hy, want sy ma het nie tyd in die week gehad nie!). Hy is die oudste van twee seuns. Sy skoolloopbaan begin by die Laerskool Eben Swemmer en hy verwerf sy matriek-sertifikaat by die Hoërskool Hendrik Verwoerd Hy word groot in Pretoria - die eertydse tuiste van Noord-Transvaal. Die gemeente waarbinne hul geloofsvorming plaasgevind het, was NG Kerk Villieria en die dominees was di. RB Murray, Andries Burden en Cassie Carstens. Sy graad- studies het begin by Universiteit van Pretoria (1973- 1984) met BA (Admissie), B Hons (Sosiologie) en Diploma inTeologie (1977). Hy studeer ook aan die Universiteit van Stellenbosch (omdat hy toe al kon rugby speel !) en hy verwerf sy M Phil (Etiek) aan die Randse Afrikaanse Universiteit in 2004.
|
Darius ontmoet sy vrou, Karin, in 1979 op Universiteit (hy onthou tot nou toe nog die dag wat hy Karin voor
die biblioteek sien staan het en gedink het, wat 'n oulike meisie) en op 14 November 1981 is hulle getroud -
en siedaar, nog steeds saam na 35jaar. Uit die huwelik is vier kinders gebore, Derik (1983), Rienie (1985)
en Tobie en Carine (1986). Die tweeling is op jong ouderdom oorlede: Carine in 1993 en Tobie in 2005 -
beide is met kanker gediagnoseer. Derik hul oudste seun is getroud met Lené en is die ouers van hul eerste
kleinkind Lieke. Rienie hul dogter, is getroud met Ivan van Rooyen en verwag tans hul eersteling. |
![]()
Ontvangs en bevestiging van
ds. Darius & Karin Botha op
31 Januarie 2010
|
Ds. Darius is gevra om te antwoord op twee vrae en die kommentaar in sy eie woorde, is soos volg: Wat was jul eerste indrukke van die Kroonstad-Oos gemeente? Wat 'n wonderlike gemeente wat onder die leiding van Heilige Gees ons 'n kans wou gee om saam met hulle die Here te dien. Hierop is my en Karin se reaksie net - die Here bly getrou en Hy het vir ons weereens voorsien. Ons ervaringe van die dag toe oom Jan Hartman ons ontmoet het en in die gemeente rond geneem het, tot nou die dag toe ons moet groet as gevolg van my siekte-toestand, was een besonderse tyd van geloof, hoop en Iiefde en die grootste hiervan, is die LIEFDE.... Dankie, dit is onverdiende guns alleen. |
![]()
Afskeid van ds. Darius & Karin
Botha op 27 Julie 2014
|
Wat was van jul mees positiewe ervarings tydens jul verblyf en diensjare in die gemeente? Daar was en is vir ons baie positiewe ervarings. Ek en Karin glo om gelukkig in 'n gemeente te wees, hang af van jou keuse: As jy kies vir moeilikheid, gaan jy dit kry en as jy keuse vir kind van God wees saam met ander gelowiges gaan jy 'n 'fees' tegemoet. By ons positiewe ervarings as daar rolspelers betrokke en langs hierdie weg bring ons hulde en bedank ons: ...ons voorgangers vir die vaste fondament wat hulle vir ons gelê en ons bediening maklik gemaak het; ...die kerkraad wat vir die vryheid en ruimte gegee het om net kinders van die Here te kon wees vir tydens ons bediening en verblyf hier; ...'n gemeente wat ons met Iiefde en deernis aanvaar en verdra het; ...'n energieke en kreatiewe medeleraarspaar, Wikus en Zanel, wat ons twee 'ou mense' met liefde en omgee aanvaar het. Ons pad saam met ...hulle was wonderlik en ons sal dit altyd koester as een van daardie besonderse tydperk en geleentheid deur God bestem. DANK aan ons Here en Heiland wat al bogenoemde ROLSPELERS omarm en geskep het. Dat HY ons vertrou en toegelaat het om onder Sy mense te werk.... DIT bly 'n hoogtepunt in ons lewe.
|
DS. M ELLIS 1 Januarie 2016
|
Marius is gebore en getoëin Pretoria en is die jongste van 3 kinders. Sy skoolloopbaan het hy
voltooi aan Hoërskool Oos-Moot en het sy studies by die Universiteit van Pretoria Cum Laude geslaag.
Marius vind visvang baie ontspannend en is ook lief vir lees, rugby afrig, gholf en fietsry.
Hy doen sy gemeentejaar in NG Nooitgedacht Bronkhorstspruit. |
Dit is ook in Bronkhorstspruit waar hy sy vrou Lindi Els ontmoet het in haar finale jaar van Onderwys aan Potchefstroom Universiteit. Lindi het op Dundee groot geword en ook haar skoolloopbaan daar voltooi. Sy het ‘n passie vir kinders en diere. Die leraarspaar is getroud op 4 Januarie 2014 en hul eersteling Joshua Jonathan Marius Ellis is op 14 Desember 2016 gebore. Dit is beide Lindi en Marius se droom dat die Here hulle in Kroonstad sal gebruik om sy Koninkrykswerk voort te sit en die gemeente en dorp met liefde en oorgawe te dien. |
Ontvangs van ds. Marius
& Lindi Ellis op
17 Januarie 2016
|